C.J. Langenhoven

Dit is sinopsis, klik hier vir ‘n langer biografiese oorsig.

C.J. Langenhoven was ‘n dramaturg, digter, joernalis, politikus en een van Afrikaans se veelsydigste skrywers. Hy word veral vir sy humoristiese en satiriese werke onthou.

Cornelis Jacob Langenhoven is op 13 Augustus 1873 op die plaas Hoeko naby Ladismith, en die toenmalige Kaapprovinsie gebore. Sy moeder is vyf dae later oorlede en hy is deur sy oom en tante grootgemaak. Sy eerste skoolmeester was die Hollandse meester Bloemkolk.

Ná sy skooljare op Ladismith en Riversdal het hy by die Victoria College te Stellenbosch sy BA in 1895 behaal. Die instelling het op daardie stadium nie ‘n regsdepartement gehad nie.

Langenhoven het op Ladismith ‘n posisie as leerlingsprokureur aanvaar en in 1896 sy LLB-graad by die Goeie Hoop Universiteit, Kaapstad behaal. Hy het daarna as prokureur in Kaapstad en Oudtshoorn gewerk.

In 1912 word hy redakteur van die Oudtshoorn-koerant Het Zuid-Westen.

Langenhoven het hom beywer vir die aanvaarding van Afrikaans as algemene taal en ook as onderrigtaal om Hollands op skool te vervang. Talle geleerde mense het neergesien op Afrikaans as ‘n mindere vorm van Nederlands, maar Langenhoven het met hulle verskil.

In 1914 word hy ‘n lid van Oudtshoorn se Provinsiale Raad van Direkteurs en later ‘n senator van die destydse Kaapprovinsie.

Langenhoven het sy kontak met Stellenbosch en sy alma mater behou en het gereeld teruggekeer om een van sy vurige toesprake te lewer. Die studentewinkelkompleks op Stellenbosch staan steeds bekend as Die Neelsie, want Langenhoven se noemnaam was Neelsie, ‘n verbuiging van Cornelis.

Hy was met Magdalena Maria (Vroutjie) Hugo getroud en hulle het ‘n dogter, Engela, gehad. Hy is op 15 Julie 1932 te Oudtshoorn oorlede.

Danksy ‘n gemoedelike geaardheid staan Langenhoven steeds onder sommige bekend as “Sagmoedige Neelsie”. Tog het sy biograaf, J.C. Kannemeyer, vermeld: “Maar naas sy liefdevolheid en beminlikheid kon Langenhoven ook ‘n vurige en opvlieënde man met ‘n skilderagtige temperament wees, veral as sake vir hom nie reg verloop het nie. Soms kon hy dan sy taal besprinkel met sterk woorde …”

Sy huis, Arbeidsgenot, is in 1955 in ‘n museum omskep.

“Langenhoven was ‘n aartsrebel, ‘n onkonformis, maar tewens iemand met ‘n sterk prinsipiële gerigtheid.” – J. du P. Erlank

<< Terug