Langenhoven se lewensverloop

Cornelis Jacob Langenhoven is op 12 Augustus 1873 in buitengewoon tragiese omstandighede gebore op die plaas Hoeko in die distrik Ladismith in die Klein Karoo.

Sy moeder is naamlik dood met sy geboorte en hy het grootgeword aan huis van sy oom en tante, vir wie hy as Mammie en Pappie geken het. Sy eie pa was by Langenhoven as “Anderpa” bekend. As kind was Langenhoven se gesondheid swak, en hy het afgesonderd, sonder speelmaats, op die plaas grootgeword, waar hy die natuur baie goed leer ken het.

Die natuur het by hom ‘n groot liefde gebly, en sy verstomming oor die prag en die krag van die natuur is ‘n belangrike bindingselement in sy skryfwerk. Van kleins af was Langenhoven baie intelligent (hy het die volledige alfabet geken teen die tyd dat hy agtien maande oud was!) en baie oplettend, soos mens kan sien uit die aantal kennisse (veral ooms en tannies) wie se doen en late hy met vrug dopgehou en onthou het om latere karakters in sy skryfwerk, soos Stoffel Gieljam en Piet Neulpotjie, te vorm.  

Vir sy eerste vyf of ses skooljare is hy op die plaas deur goewernantes onderrig. ‘n Goewernante is ‘n vrou met ‘n mate van opleiding wat onderrig gee, maar nie noodwendig ‘n volledig opgeleide onderwyser is nie. Langenhoven se goewernantes was meestal baie kwaai en onplesierig, en het hom sleg behandel.

Later is Langenhoven onderrig deur ‘n meester Bloemkolk, ‘n Nederlander wat baie aandag aan kreatiewe skryfwerk en kennis van die Bybel gegee het, en vir Langenhoven baie boeke geleen het om te lees.

Van 1888 tot 1890 het Langenhoven skoolgegaan op Ladismith, waar hy altyd die toppresteerder was. Daarna het hy skoolgegaan op Riversdal, waar hy sy matriekeksamen geslaag het voordat hy aan die Universiteit Stellenbosch (in daardie stadium bekend as Victoria College) gaan studeer en ‘n regsgraad verwerf het.

Op 23 Februarie 1897 trou hy met Lenie van Velden, wat in sy skryfwerk bekend sou word as Vroutjie. Uit die huwelik is ‘n dogter, Engela, op 22 Desember 1901 gebore.

Nadat hy ‘n ruk lank as advokaat in Kaapstad gepraktiseer het, het Langenhoven hom as prokureur op Oudtshoorn gevestig, en het hy spoedig oral bekend geraak as ‘n knap kenner van waterreg – al die wette wat op water van toepassing was.

In 1903 het Vroutjie ‘n huis, aanvanklik bekend as Woodbine maar later herdoop tot Arbeidsgenot, vir die gesin aangeskaf. Die huis is vandag nog in dieselfde toestand as wat dit was toe Langenhoven daar gewoon het, en is vir die publiek toeganklik. Dit is in Jan van Riebeeckweg, Oudtshoorn geleë.

In hierdie jare as prokureur, tussen 1902 en 1912, het Langenhoven begin belang stel in landsake en in die politiek. Hy het ook wegbeweeg van sy vorige opinie dat Engels die land se enigste skryftaal moes wees, en ten gunste van Afrikaans begin raak.

Dit is ook in hierdie jare dat Langenhoven begin skryf het, veral in die koerant Het Zuid-Westen, wat op Oudtshoorn uitgegee is. Sy destydse skryfwerk sluit ‘n paar toneelstukke in. In 1912 is Mammie, die liewe pleegmoeder (sy tannie) aan wie hy so geheg was, oorlede, en dit het Langenhoven erg getref.

In dieselfde jaar het Langenhoven koerantredakteur geword toe hy aan die hoof van Het Zuid-Westen aangestel is. Van die begin van sy redakteurskap af het hy Afrikaans eerder as Nederlands in die koerant gebruik.

In daardie jaar het hy ‘n assistent genaamd Sarah Goldblatt gekry. Met haar het hy die hegste van verhoudings gehad, en sy het tot sy dood sy werksassistent gebly. Sy het hom as Chief aangespreek. Na Langenhoven se dood was sy die eksekuteur van sy letterkundige nalatenskap.

Die jaar 1914 was in Langenhoven se lewe om twee redes belangrik, naamlik dat hy tot die provinsiale raad (min of meer soortgelyk aan deesdae se provinsiale wetgewers) verkies is en dat die ineenstorting van die wêreldwye aanvraag na volstruisvere die ekonomie van Oudtshoorn so hard getref het dat sy koerant, Het Zuid-Westen, moes sluit.

In die provinsiale raad het Langenhoven hom daarop toegespits om Afrikaans as ‘n onderrigtaal in skole gevestig te kry. Daarin het hy in 1914 geslaag. Later het hy ‘n groot rol gespeel om Afrikaans in 1918 as ‘n gebruikstaal in die staatsdiens, en in 1925 as een van Suid-Afrika se amptelike tale ingestel te kry.

In 1915 is Langenhoven genomineer as die Nasionale Party se parlementskandidaat vir die kiesafdeling Oudtshoorn, maar hy verloor met 1 350 stemme teen 1 069 teen J.H. Schoeman van die Suid-Afrikaanse Party. In 1920 buit hy wel die kiesafdeling Oudtshoorn vir die Nasionale Party, maar verloor dit weer in 1921. Hy is tot die parlement benoem as senator vir die Nasionale Party, wat hy tot sy dood in 1932  gebly het.

As parlementslid was hy ‘n gewilde parlementêre en openbare spreker in sowel Afrikaans as Engels. Hy het hom veral vir die uitbou van Afrikaans as ampstaal beywer, en het ‘n groot rol daarin gespeel dat Afrikaans in 1925 uiteindelik tot een van Suid-Afrika se ampstale verklaar is, soos vandag nog die geval is.

Hy het ook in 1929 die berugte “Swartgevaar-verkiesing” help beplan wat op erg rassistiese manier stemme vir die Nasionale Party gewen het.

Langenhoven, wat ‘n Vrymesselaar was, het ook as openbare spreker en debatteerder oor ‘n wye verskeidenheid onderwerpe al gewilder by die algemene publiek geword. Sy belesenheid oor die geskiedenis, wysbegeerte, mitologie, letterkunde en die debatteerkuns het hom hierin nuttig te pas gekom.

Hy het ook heelwat poësie geskryf, waarvan die hoogtepunt ongetwyfeld “Die Stem van Suid-Afrika” was, wat hyin 1918 geskryf het. Dit vorm tans die Afrikaanse en ‘n deel van die Engelse gedeeltes van die Suid-Afrikaanse volkslied.

Van 1922 tot 1932 het die Kaapse dagblad Die Burger elke Maandag Langenhoven se rubriek “Aan stille waters” onder die welbekende skuilnaam Sagmoedige Neelsie gepubliseer. Dit was van die gewildste leesstof in die hele koerant, veral omdat dit so lewendig, eietyds en skerp geskryf is – skerp nie net wat skerpsinnigheid betref nie, maar ook skerp in kritiek op bekendes met wie Langenhoven ‘n byltjie te slyp gehad het. Van hulle was daar baie, want Langenhoven was baie gevoelig vir kritiek. Na ‘n paar negatiewe boeke resensie van sy boeke, is spesifiek gevra dat geen resensies meer geplaas word nie. Dieselfde het gebeur toe die NG Kerk nie Langenhoven se psalmberymings vir amptelike gebruik aanvaar het nie.

Langenhoven se politieke opponente het uiteraard ook deurgeloop.

Langenhoven se gestel was altyd swak, en hy is sy lewe lank geteister deur swak gesondheid, vererger deur dranksugtigheid en alkoholisme.

Hy is op 15 Julie 1932 in die vroeë ouderdom van 58 jaar oorlede.

<< Terug