C.J. Langenhoven se nalatenskap is nie sonder kontroversie nie, maar dat hy geweldig veel vermag het in sy lewe, dat hy fantastiese stories geskryf het wat vandag nog leesbaar is, en dat hy uiteindelik baie gedoen het om Afrikaans te help verhef na ’n amptelike taal in die plek van Nederlands, is nie altemit nie.

Langenhoven het ’n enorme oeuvre nagelaat in Afrikaans, Nederlands en Engels, en in amper elke genre.
As jongman het Langenhoven sterk pleidooie gelewer dat Engels as ’n Suid-Afrikaanse taal geag moes word – iets wat die Nederlandstalige pers ernstig beswaar het. Die besware moet veral verstaan word in die lig van die effek van die Boereoorlog op die Suid-Afrikaners van daardie tyd.
Dalk het die Nederlandstalige pers se houding deels bygedra tot Langenhoven se besluit om op ’n baie vroeë stadium te vra dat Afrikaans, nie Nederlands nie, naas Engels die tweede amptelike taal van Suid-Afrika moet word.
In die tyd van ’n opkomende Afrikanernasionalisme het Langenhoven se aandrang op Afrikaans skielik nuwe ondersteuning gevind.
Langenhoven was ’n vurige spreker en ’n uitstekende skrywer. Hy het geweet hoe om met gewone mense te praat sodat hulle in sy boodskap sou glo.
Saam met Langenhoven se sterk aandrang daarop om Afrikaans as amptelike taal te vestig, het sy gedig wat later die basis van “Die Stem” sou word, Langenhoven gevestig as ’n ikoon van nasionalistiese Afrikaanssprekendes. Later, ná sy dood, sou sy intieme vriendin, Sarah Goldblatt, nóg harder werk om seker te maak dat Langenhoven se nalatenskap nie sou vervaag nie. Langenhoven is selfs by tye “die vader van Afrikaans” genoem – ’n aanspraak wat natuurlik histories nie sin maak nie.
Dat Langenhoven geweldig baie vir en in Afrikaans gedoen het, is waar.
Dat Langenhoven, verblind deur die nasionalistiese beweging, totaal onsensitief was vir die feit dat Afrikaans glad nie ’n “wit” taal is nie, is ewe waar.
Hierdie webruimte is gemoeid met die nagedagtenis van Langenhoven. Hy was ’n skrywer, pa, minnaar, man, denker, filosoof en soms selfs kopieskrywer vir die apartheidmasjien. Hy was kompleks, briljant, en soos ons almal, menslik en dus feilbaar.
Ons glo dat juis sy ménslikheid dit moontlik maak om hom en Afrikaans (wat na aan sy hart was) relevant te hou.
Die direksie van die Langenhoven Gedenkfonds nooi daarom ook denkers soos dr. Franklin Sonn om ongemaklike kwessies rondom Langenhoven se nalatenskap aan te spreek. Tydens die KKNK van 2019 het Sonn vertel hoe baie van Langenhoven en sy volgelinge se idees vir hom, en miljoene Afrikaanssprekendes wat nie wit is nie, seergemaak het.
Jeremy Vearey is genooi om tydens die KKNK van 2020 Langenhoven vanuit sy sel op Robbeneiland te beskou, daar waar hy straf uitgedien het vir sy aandeel aan die struggle om bevryding. Weens COVID-19 het hierdie gesprek toe nie plaasgevind nie.
Deur die seer van die Suid-Afrikaanse verlede in Afrikaans aan te spreek, probeer ons om brûe te bou na die toekoms.
Deur sy ongelooflike en unieke literatuurskat te onthou, deur Neelsie se humor en menslikheid te vier, ook deur Arbeidsgenot oop te stel aan almal wat belangstel, poog die Langenhoven Gedenkfonds om in die naam van Langenhoven nuwe moontlikhede oop te maak na ’n toekoms vir almal in Suid-Afrika.

Nelson Mandela het dit goedgedink om ’n gedeelte van Langenhoven se “Die Stem” te behou in die Nasionale Lied van ’n demokratiese Suid-Afrika. Saam met Enoch Sontonga se gesang “Nkosi Sikilel’ iAfrika” staan Suid-Afrikaners vandag skouer aan skouer om ons vryheid te vier elke keer wat ons hierdie lied sing.
Dit is die krag van poësie. Nóg Langenhoven nóg Sontonga, was smetlose wesens.
Danksy hierdie twee digters, het ’n demokratiese Suid-Afrika ’n nasionale lied om op trots te wees. Hoeveel te meer sal dit nie Suid-Afrika baat as ons almal ons moedertale vier deur skeppend daarmee om te gaan nie, soos Langenhoven en Sontonga van ouds?